Skip links

Best In Town

it is all about food.

Interior Designer Ansie Steyn

Interior Designer Ansie Steyn

Die “Jackal on the Beach”- restaurantprojek was vir seker een van die mees belonende projekte waarby ek nog betrokke was.

Vir een of ander rede maak die geskiedkundige waarde van die Pavilion dat elke Mosselbaaier ‘n soort emosionele band met die gebou het. Miskien maak elkeen se herhinneringe van glorieryke en vergange dae ons stellig glo dat hierdie spesiale gebou, lekkerlik op die water, aan ons almal behoort. En dit hou die hele ontwikkelingspan nederig.

Dit was verrykend en besonder bevredigend om deel te wees van ‘n span wat uit die staanspoor dieselfde visie gedeel het. My opregte dank aan Jurgens, Jantjie, Maans, Marius en Quintus van wie ek onvoorwaardelike ondersteuning gekry het wat my deurlopend vertrou het.

Ons uitgangspunt was vanuit die staanspoor om soveel as moontlik van die Pavilion se bestaande struktuur te hou en respek vir die historiese argitektoniese integriteit te koester. Die kreatiewe aanslag was dus enersyds om onnodige en onooglike aangeplakte elemente wat deur die jare ongemagtig aangebring is, te verwyder sonder om die hart en siel van die gebou te na te kom.

Die herontwerp van die Jackal on the Beach spasie streef deurgaans daarna om die gewigtige geskiedenis van die Pavilion, die ongetwyfelde aantrekkingskrag van die Jakkalsvlei handelsmerk, die opgewekte en uitsonderlike posisie van die Pavilion op Santostrand se see en sand te versoen met die kommersiële eise van ‘n kontemporêre restaurant wat by almal moet byval vind.

Eenvoudige meditereense teëls met ‘n eg Griekse motief, kontrasterende verfkleure, die grasie van die ou klipmure, die karakter van die natuurlike hout dakkappe wat nou sigbaar is, die swart en wit fotos teen die mure en talle ander nuwe elemente is die kaleidoskoop van die nuwe struktuur.

Die aanslag is onpretensieus dog vars met ‘n tikkie strand elegansie. Lig en donker is die herhalende tema.

Ons het deurgaans gepoog om erkenning te verleen aan die omiskenbare en indrukwekkende “ look and feel” van die Jakkalsvlei handelsmerk en dit te vertolk in die ontwerp van die nuwe spasie en ook in die toonbanke en meubels.

Die ou kombuis is vernuwe en die hand van ervare restauranteurs is duidelik te siene.

Daar is by my min twyfel dat die kos en drank wat by “Jackal on the Beach’ bedien gaan word stoutste verwagtinge gaan oortref.

deur Ansie Steyn

 

https://www.facebook.com/AnsieSteynInterior/

Opinions

  1. Post comment

    This is a wonderful building given a new life as a very trendy restaurant and bar. What a breath of fresh air in Mossel Bay. The craft beers are a must to try!
    Well done to all those involved in its development into the “Jackal on the beach”!

    Permalink

Leave a Reply to Richard Ellis Cancel reply